Ek is Nuut

gkbloempark_logo_ekisnuut

Ons, Bloemparkers, verstaan dat dit nogal uitdagend kan wees om deel te word van ‘n groot gemeente. So baie dinge wat gebeur en jy ken amper niemand nie en weet nie eintlik eers hoe om betrokke te raak nie! Ontspan! Ons is hier om te help, om jou en jou gesin sommer gou deel te laat voel.

Eerste ding: WELKOM! Ons is dankbaar om jou by ons familie te verwelkom!

Ons as Bloempark is deel van die groter GKSA Kerkfamilie (Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika). Besoek gerus hulle webwerf – dalk wil jy uitvind waar ons vandaan kom of wat ons almal as kerke in die verband saam bely.

Verder, ons as gemeente (dis nou Bloempark) wil graag ‘n gemeente wees wat groei in en deur die Bybel. Daar is sommer talle maniere wat ons die geleenthede skep om te groei:

  • Jy kan die Preke van Sondag aflaai – in geskrewe formaat of in klank (vir daardie tyd wat jy vassit in die verkeer!). Dit is beskikbaar by Ons Erediens.
  • Daar is ook Bybelstudies waarby jy kan inskakel (ons sou dit eintlik regtig aanbeveel!). Dis een van die vinnigste maniere om ander beter te leer ken en deel te word van die gemeente. Verder word die Bybelstudie-materiaal elke week op ons webwerf geplaas (natuurlik hoef jy nie alles gereed te hê nie – jy het ‘n verskoning: jy is nog nuut!).

Die gemeenteblaadjie, die Kollig, is ook besikbaar op ons webblad. Dit gaan vir jou vars inligting gee oor wat gebeur in ons gemeente! Jy kan ook kontak maak met ons kerkkantoor of ons predikant.

Dan is ons ook betrokke by ‘n hele aantal Uitreik- en Sendingaksies. Ons praat sommer van ons Hande (Uitreike) en ons Voete (Sending). Gaan loer gerus. Ons as Bloemparkers bid graag vir mekaar en hierdie is iets om voor te bid, of ‘n skenking te maak of deel te word van!

Maar wat van my kind? Ons het in Bloempark op die oomblik ‘n paar dinge wat aangaan vir kinders: ons het Preekbegeleiding – dis hoofsaaklik vir laerskoolkinders dat hulle ook kan deelneem aan die erediens. Hulle neem ‘n bord by die deure en volg dan saam deur in te vul op die papier. Ons het verder ook Agape-kinders vir die kleintjies. Die heel klein kindjies word op ‘n unieke manier bedien deur een van ons dames, terwyl die erediens aan die gang is. Verder het ons Kruiskafee saam met NGKerk Fichardtkruin en ander GK gemeentes. Kruiskafee is een maal ‘n maand ‘n Sondagaand waar ons jongmense saam gesels oor ‘n relevante onderwerp! Gaan kyk gerus hoe die dinge groei.

Na elke erediens drink ons as ou vriende ‘n koppie koffie en tee saam. Nog ‘n geleentheid om mekaar beter te leer ken. Stap sommer na die predikant toe en skud sy blad (dis darem al een ou wat jy ken) of loop sommer iemand tromp op. Ons is ‘n vriendelike groepie ouens!

As jy enige verder vrae het oor ons gemeente – moenie huiwer om te vra nie! Ons help graag waar ons kan! Hier is sommer weer ons kontakbesonderhede van ons kerkkantoor. Die dame in die kantoor se naam is Lucille, sy sal al jou vrae beantwoord en julle vinnig laat welkom voel!

KONTAK ONS

Naam (jy kan anoniem bly)

E-pos Adres

Onderwerp

Boodskap